Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Diereriem " deur D.J. OPPERMAN
" Diereriem " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #103723] Do, 09 Junie 2005 22:48
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Diereriem
D. J. Opperman

Pan
Opeens het piet-my-vrou gefluit
toe skrik erdwurms in die kluit,
en orals in die vlei steek
bolle hul groen peesters uit.

Bul
Hy snuif en snuif, nog eers verward
oor watter geur sy drif uittart,
dan kies sy horing snel één
van twee paaie na die hart.

Tweelinge
Daar is twee pole wat die gang verstoor
As teengesteldes wat gelyk bekoor,
en tussen hulle hou die hart en son
diep in die dop 'n dubbeldoor.

Krap
Ek kyk uit pantsers deur 'n kier
en flikker in die sonlig skêr en spier,
verberg die fyn en tere - agter
die stroewe skild op 'n skarnier.

Leeu
Hy gloei voor my uit die braambos
en vlam op vlam skud Hy Sy maanhaar los,
die koninklike vuur van die heelal
wat my van bloed en vlees verlos.

Maagd
Sy laat die uitverkore saad ontwaak,
die sakaboela nes in biesies maak -
Sy baar die eier, vrug en Knaap; maar gaan
van hierdie aarde self onaangeraak.

Weegskaal
Die nag en dag sal ek soms bring
deur wik en weeg tot ewening;
maar altyd roer tussen die twee
die wyser van die skemering.

Skerpioen
Onder die swart klip van die nag stoot
onverwags sy angel in my skoot;
ek worstel .. gee my oor aan die vergif,
aan die bedwelming van die dood.

Skutter
Ons sien 'n eland stadig nader kom
maar wei as trop rustig met hom;
dan tref 'n pyl en weet ons weer
die dood wei tussen ons vermom.

Steenbok
Ek het haar fyn en skugter teen die more
eens gesien, maar koersverlore
soek ek sedertdien oor stof en ryp
die paadjie van haar spore.

Waterman
Hy skep die waters weer byeen
en sonder ag op bid of ween,
kantel Hy na eie spel
dit deur die gieter weer uiteen.

Visse
Agter ysvlakke van 'n ander ryk
hang wesens wat liggies roei en wyk,
terugkeer, en met verstilde hartstog
na 'n afgestolpte wêreld kyk.
Vorige onderwerp: " Paternoster " deur HEIN SWART
Volgende onderwerp: " die miskruier " deur BREYTEN BREYTENBACH
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 12:59:43 MGT 2024