Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Daar's filosowe in die voorry! " Rubriek deur FERDI GREYLING
" Daar's filosowe in die voorry! " Rubriek deur FERDI GREYLING [boodskap #101523] Sa, 19 Februarie 2005 00:39 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Daar's filosowe in die voorry!
En op paviljoene brand hulle vir bewys van vrye wil
-- Ferdi Greyling
Hoekom kyk mense na rugby of krieket of enige ander spansport? Vir mense wat
nie weet nie, kan 'n paviljoen vol rugby-ondersteuners lyk na 'n
emosie-gedryfde spul barbare wat bar gil om groepwraak -- 'n siening soms
onderstreep deur hul kleredrag (of gebrek daaraan).

Wat dink 'n mens van iemand wat sy gesig blou verf, horings op sy kop dra,
bier gedrink het en hees bulder dat 'n soort geweld nóú gepleeg moet word.

Maar diep onder alles kyk ons eintlik om baie filosofiese redes rugby (of
krieket). En 'n mens praat hier nie van die dun omie met die kravat wat stil
eenkant met heimwee sit en glimlag nie. Hy is maar net 'n
Sharks-ondersteuner wat die werklikheid in die oë moes kyk.

'n Mens praat hier van die res van die gekke. Dié met horings, rooi hoede en
verspotte strepe op hul lyf.

Dit is eintlik alles 'n obsessie met ons desperate geloof in vrye wil en die
argument begin ver terug, by die astronoom Stephen Hawking van Cambridge.
Hawking argumenteer iewers in 'n artikel dat ons voorspelbare wesens in 'n
voorspelbare universum is.

Hy sê dit lyk of die wette van fisika soos ons dit ken in alle plekke en
alle tye dieselfde is.

Dit beteken byvoorbeeld swaartekrag word hier in Suid-Afrika, in Engeland en
op die maan dieselfde gemeet en vandag dieselfde as laas week. Ons kan dus
aanvaar dit sal volgende week op Mars ook dieselfde meet.

Kortom, een plus een is nie net op die aarde twee nie, maar ook op 'n ander
planeet in 'n ander sonnestelsel.

Hawking sê voorts 'n mens kan ook aanvaar dat ons as mense van atome
aanmekaargesit is. Ons is dus net sulke tasbare dinge soos honde wat
hardloop of klippe wat grond toe val.

Die derde been van die argument is dat die fisieke wêreld (gebou van atome)
voorspelbaar is aan die hand van die wette van die fisika. 'n Mens kan
vooruit voorspel waar 'n kanonkoeël gaan val as jy sy gewig ken, weet hoe
vinnig en teen watter hoek hy die kanonloop verlaat en so meer. Dieselfde
geld materie op atomiese en selfs subatomiese vlak.

Gooi die drie saam, sê Hawking, en 'n mens staan voor die onvermydelike
gevolgtrekking dat ons atomiese boustene ook voorspel kan word. En dat die
kombinasie daarvan (ons) ook voorspel kan word.

Dit is te ingewikkeld om werklik te voorspel wat jou vrou gaan doen as jy
haar met 'n duur sjokoladekoek sou gooi waarop 'n Valentynsboodskap geskryf
is, maar teoreties is ons voorspelbaar.

Aan die ander kant glo ons aan vrye wil. Maar as die lewe om ons die gevolg
is van al die mense wat skielik doen soos hulle wil, dan is daar nie
voorspelbaarheid nie (en die wette van fisika werk mos alle tye en plekke en
ons is mos gemaak van materie).

Hawking sê die idee van vrye wil is misplaas, maar goed vir ons. Dit maak
ons moreel. Hy reken ons het dit deur evolusie opgetel.

Ander mense sê terwyl die wêreld om ons tot groot mate voorspelbaar is, is
alles dalk nie tot die laaste letter voorspelbaar nie. Met ander woorde die
WP géén 'n drie druk, maar hoe jy daarop gaan reageer, is in jou beheer.

So 'n konstruksie los in beginsel 'n gaping vir die individu. Miskien, net
miskien, kan 'n mens iets wat gebeur ook net 'n bietjie beïnvloed?

Miskien gebeur die groot dinge onafwendbaar, maar vul ons baie irrelevante
detail tussendeur in. Detail wat niks aan die groot dinge verander nie, maar
ons belangrik of goed laat voel.

Dis hier waar die rugby inkom. Rugby is nie net 'n spel nie. Dis die konflik
van lewe deur reëls en beperkinge gereduseer tot die punt dat 'n mens die
sentrale dinamieke van die lewe helderder kan sien. (As ek dit nie mis het
nie, was dit die legendariese Springbok Boy Louw wat gesê het elke toets
moet eintlik 0-0 eindig, maar omdat ons as mense feilbaar is en foute maak,
word daar punte aangeteken.)

Dus: Elke rugbywedstryd moet eintlik voorspelbaar wees en elke wedstryd
ontvou grootliks aan die hand van onvermydelikhede (sterk voorspelers,
bewerige heelagter, struktuur van die spel, ensovoorts) maar elke nou en dan
systap iemand onverwags na 'n ander kant toe, vang die hele onvermydelikheid
oorhoops en hardloop deur.

Dit is wanneer die skare so bulder. Hulle juig vir iets wat hulle as 'n
uitdrukking van vrye wil in 'n konteks van onvermydelikheid sien. Altyd
hoopvol daarop, sit hulle by die duisende Saterdag en hulle kyk na die
patrone van die onvermydelikheid wat voor hulle uitspeel. Wagtende op die
teenstrydigheid, op 'n uiting (bewys?) van vrye wil.

In rugby is selfs die voorrye filosowe.
Re: " Daar's filosowe in die voorry! " Rubriek deur FERDI GREYLING [boodskap #101550 is 'n antwoord op boodskap #101523] Di, 22 Februarie 2005 02:42 Na vorige boodskap
Vusi  is tans af-lyn  Vusi
Boodskappe: 2212
Geregistreer: Februarie 2001
Karma: 0
Senior Lid
Soms wonder ek, soos talle reeds voor my, of mens 'n swak oorspronklike
skildery moet aanskaf, of 'n afdruk van 'n meesterstuk moet koop.
Ferdietjiekie - pos eerder die geskandeerde werk van Bosman, maar proeflees
dit asseblief voor plasing. Selfs verwysings na Hawking help nie om 'n snert
"rubriek" kredietwaardigheid te gee nie.
Kry iemand om jou "rubrieke" objektief te kritiseer - jy is geneig om jou
lesergehoor te onderskat. Jy dink hulle is so dom soos jouself.
Vorige onderwerp: " Die Kalksteengroef " deur CHARL- PIERRE NAUDE
Volgende onderwerp: " Wy " deur BREYTEN BREYTENBACH
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 10:33:49 MGT 2024