Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Die betoning van ons eerbied

deur C.J. Langenhoven; So, 24 Junie 2018 05:24

DIE BETONING VAN ONS EERBIED

Kyk ieder 'n man waterpas in die oë: jou vader was ook 'n man; maar haal jou hoed vir 'n vrou af, want jou moeder was 'n vrou.

In sekere opsigte kan geeneen van ons onafhanklik wees nie. Ons vorm lede van 'n ingewikkelde ekonomiese stelsel en elkeen dien al die ander in ruil daarvoor dat al die ander hom dien. Die ryk man het 'n skoenpoetser nodig as hy nie self sy skoene wil poets nie; die boer het 'n winkelier nodig, 'n transportryer, 'n ysterfabrikant, 'n mynwerker, as hy nie met 'n beeshoring wil ploeg nie. Maar juis die stelsel wat vir ons afhanklik maak, die maak vir ons onafhanklik: die skoenpoetser kan huur opgee en 'n ander diens gaan soek.

Daar kan tye kom wanneer ons nie elke man in die oë kan kyk nie. Maar dan het ons dit self só bewerk. Die man wat jy jou skuld nie aan betaal het nie; die man wat jy sy reg van onthou het omdat die wet nie volmaak is of die regter alwetend nie; die man wie se karakter jy belaster het uit nydigheid omdat hy beter is as jy; die man wat van jou geheime skande weet en genoeg van 'n fatsoenlike man is om dit vir homself te hou: en meer ander - as daar ander is in jou geval, hoef ek jou nie van hulle te vertel nie - dié mense, sê ek, kan jou nie in die oë kyk nie. Sover as hulle betref het jy jou mannelike onafhanklikheid verkoop vir 'n prys wat minder werd is as niks in die mark van jou gewete en in die weegskaal van jou God.

Wat sal ek van my moeder sê? 'n Man het vir haar die soort gevoel wat dit heiligskennis sou wees om aan 'n ander te fluister en 'n gruwel om luide mee te roem. En 'n weerskyn van die gevoel, ook as sy nie meer daar is nie - ja, te meer as sy nie meer daar is nie - kom voor ons geestelike oog as ons aan al die moeders van ons volk dink in die verlede, en die toekomstige moeders rondom ons van ons nageslag. Daar is slegte van hulle rondom ons - mag dit nie óns wees wat van hulle gevalle engele gemaak het en nou die eerste klip wil gooi nie! Onder bittere lyding het hulle ons in die wêreld gebring; met die sagte hand van 'n liefde wat ons nie kan begryp nie het hulle ons kinderswakheid verpleeg; op ons growwe weg van werk en stryd het hulle steeds vóor ons gehou die lamp van 'n hoë ideaal. Wat hoog en edel in ons is het hulle aangekweek; laat ons nie van ons krag gebruik maak om hulle liefderyke gedienstigheid tot slawerny te verneder nie. Jou hoed af, maat, met nederige aanbidding: dis 'n vróú daardie!

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Verafrikaansing van woorde

Om te verafrikaans of nie; Sa, 23 Junie 2018 12:53

Dit lyk of die Taalkommissie begin wegbeweeg van wat hulle beskou as die "oormatige" verafrikaansing van woorde. Die probleem is egter dat fonetiese spelling een van Afrikaans se grootste bates is. Ons skryf woorde grotendeels soos ons hulle uitspreek. Sulke verafikaansde wisselvorme word dan ook algemeen in woordeboeke en publikasies aangetref.

Wat die AWS betref, is Tsjaka verwyder en slegs Shaka word nou gelys;
Fukushima eerder as Foekoesjiema;
China en nie meer Sjina nie (sien 2017-AWS);
ens.

Hier is nog 'n paar verafrikaans woorde wat algemeen in boeke en op die Internet aangetref word:

  • China - Sjina
  • Mexiko - Meksiko
  • Sudan - Soedan
  • Uganda - Oeganda
  • Ukraïne - Oekraïne
  • "breakfast" - brekfis (ontbyt)
  • "bullybeef" - boeliebief
  • "chops" - tjops (kottelette)
  • "chips" - tjips (aartappelskyfies)
  • "choclits" - tjoklits
  • OK - Okei
  • uhuru - oehoeroe
  • nuusbulletin - nuusboeletien
  • shar pei - sjarpei (die honderas)

'n Woord soos "Sjina" is reeds deur C.J. Langenhoven gebruik (en moontlik selfs voor hom), maar nou is dit blykbaar verkeerd. Hoe verander mens 'n skryftradisie wat ten minste 'n eeu oud is, in talle woordeboeke opgeneem is, en algemeen deur mense besig word?

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die waardering van ons eggenote

deur C.J. Langenhoven; Sa, 23 Junie 2018 06:13

DIE WAARDERING VAN ONS EGGENOTE

Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.

Jy sal wel nou en dan hoor dat iemand van jou geseg het hy kan jou nie verdra nie. Soos gebruiklik is, sal dit agter jou rug gesê geword het; en soos ook gebruiklik is, sal dit deur 'n derde persoon aan jou oorgedra geword het. Die aanmerking sal jou seergemaak het en jy sal bitter gevoel het teen die man wat dit geuiter het. Want niks grief ons só as om in ons eieliefde gekrenk te word nie. Maar probeer jy ooit om 'n verskoning te maak, om 'n ekskuus te soek, vir die buurman wat nie van jou hou nie? Ondersoek jy ooit of hy nie taamlik rede het vir sy teesin nie? Probeer nou eenmaal om jouself te sien soos hy jou sien, om in jou eie oë te kyk, om jou te beoordeel asof jy nie jy was nie maar 'n blote voorwerp om sonder persoonlike voorkeur of partydigheid te bestudeer. Plaas jou gees daarbuite op 'n afgesonderde standpunt en bekyk die gebrekkige verskynsel wat nou vir die eerste maal onder jou aandag kom. Jy sien voor jou 'n liggaam wat kortkom aan skoonheid: waaraan jy die bou, die kleur, die gelaatstrekke, die uitdrukking, in honderde opsigte sou moes verander (as die verbetering in jou vermoë was) voordat hy artistiek volmaak was. Jy luister na die stem wat uit die liggaam te voorskyn kom en hy is min musikaal; ontevrede met die klank, ondersoek jy die uitspraak, die woordekeus, die taalvorm, en dié weer stel jou teleur. Jy trek jou aandag van die vorm af en bepaal hom by die inhoud; jy gaan die betekenis van die woorde na, die waarde van die gedagtes wat daardeur by benadering uitgedruk word; en wat verstandig is, vind jy is nie origineel nie; en wat origineel is, is nie verstandig nie. Hier is 'n sotheid, daar 'n gemeenplaas; min van die gedagtes was die moeite werd om te dink, nog minder die moeite werd om te uiter. Jy bekyk die skepsel oor die algemeen: hier is 'n maniertjie, daar is 'n aanwendsel, ginds is 'n houding: die hele voorwerp, in sy dele en in sy geheel, in sy uiterlike en in sy inwendige, is onaantreklik en onlieflik. Kan jy die smaak van die buurman veroordeel wat só 'n gedoente "nie kan verdra nie?"

En tog, dit is die ding wat jy jou vrou mee opskeep. Daarmee word sy elke oggend wakker, daarmee raak sy elke aand aan die slaap. Die spookgestalte, die wangedrog, vergesel haar deur haar lewe: dié dien sy en bedien sy en pas sy op en liefkoos sy. En al die foutjies en houdinkies (ek neem dit dat daar nie ál te growwe by is nie) die het sy lief as onafskeibare trekke wat help om die beminde geheel te vorm. Voorwaar, haar liefde bedek 'n menigvuldigheid van kwaad! En om dié liefde, wat jou nie net kan verdra nie (al is daar soveel rede vir die teenoorgestelde) maar jou op haar hart dra, en in haar hart, en in die binneste van haar siel; om dié liefde, o man, wat jou uiterste verdienste oneindig oortref: om dié liefde, waardeer jou vrou!

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die perke van ons toegeeflikheid

deur C.J. Langenhoven; Vr, 22 Junie 2018 05:29

DIE PERKE VAN ONS TOEGEEFLIKHEID

As die ander man nie wil die helfte van die pad gee nie, gee jy dan die hele - die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.

Toe ek nog jonk was het ek rusie gemaak met hom: en hy het altyd teruggepraat. Meesal was hy 'n beter twismaker as ek - want as hy nie van dié geaardheid was nie sou hy nie ander mense se pad steel nie. Nadat ek 'n hele hoop tyd vermors het, en twede-beste uit die woordewisseling uitgekom het het ek hom gewoonlik gedreig met 'n aanklag voor die Hof. Maar 'n mens se bui gaan weer oor, en my wins uit die staatmakery op my reg was altyd minder as nul.

Nou draai ek uit met 'n glimlag en 'n vrindelike groet. Ek voel my so deugsaam by die selfopofferende gedrag dat ek vir 'n geruime tyd my jongste sonde vergeet. Ek spaar my tyd; ek spaar my humeur; ek salf my gewete.

Dit is papbroekerigheid, sê jy. Ja. Maar ieder 'n man het die reg om 'n papbroek te wees in sy eie belange. Anders sou dit nie syne wees, as hy nie die reg had om met hulle te doen wat hy wil .nie. Jy hoef ook nie 'n man aan te moedig om vir sy eie reg te staan nie. Hy sal eerder te veel eis as te min. Sy partydigheid is nie vir die teëparty nie.

Maar daar is 'n ander opsig waarin ons die uiterste duim van óns helfte van die pad moet eis. En juis daar is dit waar so baie van ons papbroeke is wat uitdraai en vir die vyand die hele pad gee. Almal van ons is voogde, trawante, pandhouers van belange wat aan ons toevertrou is - maar belange om te beskerm, om heilig te hou, want dis nie ons eie nie.

Daar is die pand wat aan elke kiesgeregtigde toevertrou is onder ons stelsel van volksregering. Die verraaier sal met 'n glimlag kom of met 'n geldbeurs of met 'n dreiement of met 'n leuen - volgens die maat van jou wat hy geneem het, en hy sal die hele pad wil neem. Trap daar vas: dis nie jou pad om weg te gee nie. Dis jou land en volk s'n.

Luther kon ook padgegee het. Maar hy het vasgetrap, en daarom het hy die pad skoongehou vir sy nageslag: vir jou en vir my. Die martelare in die geskiedenis van die wêreld vir die waarheid en die vryheid en die geregtigheid, was juis die mense wat padgegee het waar hulle eie belange gemoeid was, en vasgetrap het vir die belange van andere. Anders kon hulle die maklike keus gedaan het. Dan was hulle nie martelare nie.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die tug van ons kroos

deur C.J. Langenhoven; Do, 21 Junie 2018 06:06

DIE TUG VAN ONS KROOS

Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige bysteel nie.

Moenie opgeskeep wees met jou kweperlat nie, moenie orig wees met jou tug nie, moenie jou strengheid goedkoop maak nie. Jy kan jou kinders slaan oor elke kleine stoutigheid, en dan plaas jy die kleine op gelyke voet met die grote stoutigheid: want daarby kan jy ook nie meer doen as slaan nie. Maak jou straf seldsaam, maak hom duur, maak hom gewigtig. Jou kinders het 'n verre wêreld om deur te gaan waar hulle baie stampe en stote van vreemde sal kry: daar lê baie droefheid en teëspoed en ongeluk nog voor hulle; en hulle dae van onskuldige kindergenot en die lewenslus om dit ten volle te geniet sal hulle nooit weer terug kry as hulle onder die skaduwee van jou dak uit is nie. Hulle begint nog maar hulle weg wat vol strikvalle en slagysters is; hulle het self nie die ervaring gehad om op hulle hoede te wees vir die gevare nie: hulle het 'n vriend nodig om hulle te waarsku en raad te gee. Wees jy die vriend van jou kinders; moenie hulle die moed ontneem om na jou toe te kom met al hulle kleine moeilikhede en besware en teleurstellinge nie. Onthou, jy was 'n kind soos hulle nou is, maar hulle was nooit volwasse soos jy nou is nie. Hulle kan jou nie verstaan om hulle na jou standpunt te skik nie; jy behoort hulle te kan verstaan om jou na hulle standpunt te skik. Dis 'n sware en verraderlike wêreld waar jy hulle ingebring het sonder hulle keuse: wees hulle beskermer en nie hulle dwingeland nie totdat hulle sterk genoeg is om vir hulleself te staan. Win hulle vertroue, en hulle sal van hulleself te veel dink om jou te bedrieg. Maar anders sal hulle jou belieg oor die kleine kwaad om jou straf te ontgaan, en hulle sal uitvind dat die leuen ook goed genoeg is vir die grote kwaad. En wanneer hulle die waarheid by toeval spreek sal jy hulle nie kan glo nie: en jy sal hulle laat vrykom waar hulle skuldig is en straf waar hulle onskuldig is. Jy sal hulle opregtheid ondermyn en hulle regverdigheidssin verderf, en hulle tot bedrieërs maak.

Daar sal altyd tye kom wanneer jy hulle moet straf, al is jy hoe sag. Jou kinders is nie heilig nie, want hulle aard na jou. Straf dan en straf streng, en laat jou dreiement nooit ydel wees nóg jou beloftes nie. Maar om die straf sal hulle jou nie haat nie maar eerbiedig: dit is nie die straf van 'n bose vyand nie maar van 'n liefhebbende en geliefde ouer. Wees die boesemvriend van jou kinders, en jy sal met doeltreffendheid die vyand kan wees van hulle ondeugde.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Afrikaanse Wikipedia - 50000 artikels!

Wo, 20 Junie 2018 13:37

Die Afrikaanse Wikipedia het op 15 Junie 2018 so stil-stil die 50000-kerf verbygesteek. Die mylpaal is bereik toe gebruiker SpesBona (Sören Pfauder, wat in Duitsland woon) 'n artikel oor Rio Iguazú, 'n groot wes-vloeiende rivier in Suid-Amerika, geplaas het.

Mens sou verwag dat die media daaroor sou rapporteer, maar dit blyk dat joernaliste grotendeels onbewus is van wat op Wikipedia aangaan. Die bydraers blaas lyk my ook nie graag hulle eie beuel nie.

In elke geval, baie geluk aan almal wat so onbaatsugtig tot die projek bydra.

Mag die Afrikaanse Wikipedia aanhou groei en van krag tot krag gaan.

Afrikaans, ons taal | 1 kommentaar

Die Afrikaanse Wikipedia in 2007

Wo, 20 Junie 2018 13:07

Die volgende koerantberig het op 21 November 2007 in Rapport verskyn -

Mnr. Jimmy Wales, stigter van die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia, verduidelik die groep se planne by 'n praatjie in Johannesburg - geargiveer by http://archive.is/CiGY

Aanhaling:

"Wikipedia behoort sy gebruikers in plaaslike tale te bedien."
Só het mnr. Jimmy Wales, stigter van dié internet-ensiklopedie, die afgelope week in Suid-Afrika gesê.
Hy is hier om Suid-Afrika om die Afrikaanse Wikipedia te bevorder.

"'n Mens se moedertaal bly jou moedertaal. Dit is eenvoudiger makliker om 'n inskrywing oor byvoorbeeld kwantumfisika in Afrikaans of Zoeloe te verstaan, as om dit in Engels te probeer ontsyfer. Daarom wil ons al die kennis in alle tale probeer vaslê," sê hy.

Wikipedia is reeds in meer as 250 verskillende tale beskikbaar. Die Afrikaanse weergawe spog reeds met meer as 8 600 artikels.

Wales het Wikipedia in Januarie 2001 bekend gestel. Dit is nou die agtste gewildste webwerf ter wêreld en word met slegs 'n handvol voltydse personeel en 'n piepklein begroting onderhou.

Die mikpunt is minstens 250 000 inskrywings in elke taal wat meer as 'n miljoen sprekers het. "Eers dan kan dit werklik as 'n ensiklopidie beskou word," sê Wales.

Die Encyclopedia Britannica het sowat 250 000 inskrywings.
Die Engelse Wikipedia, die grootste van al die tale, spog reeds met meer as 2 miljoen artikels.

■ Die Afrikaanse Wikipedia is by www.af.wikipedia.org beskikbaar. - Jana Marais

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die aanlyn Afrikaanse ensiklopedie

af.wikipedia.org; Wo, 20 Junie 2018 11:36

'n Klein maar groeiende groepie Afrikaanssprekende vrywilligers neem tans deel aan 'n kennisrewolusie van globale proporsies. Die vrye bekombaarheid van inligting, tesame met die wegsmelting van tradisionele hindernisse tot samewerking en die verbinding van die uithoeke van die wêreld, teweeggebring deur die wêreldwye web, is die grootste gelykmakende en bemagtigende ontwikkeling in die geskiedenis van die mensdom.

Die web stel 'n globale hulpbron daar wat aan almal, ongeag hul agtergrond, toegang tot 'n magdom inligting en kennis verleen. En hoewel daar verskeie tekenende voorbeelde van hierdie nuwe verkrygbaarheid van inligting is, is geen meer verteenwoordigend hiervan as Wikipedia nie.

Wikipedia is 'n vrye en gratis ensiklopedie, ten volle saamgestel deur vrywilligers en toeganklik aan enigiemand met internettoegang. Boonop is dit beskikbaar in meer as 270 tale met die vlagskip Engelse weergawe wat spog met oor die 3 miljoen artikels.

Die wetenskapsjoernaal Nature, het in 2005 reeds bevind dat Wikipedia wesenlik so betroubaar soos die Encyclopedia Britannica is, 'n bron wat deur meeste mense as die gesaghebbendste Engelstalige ensiklopedie beskou word.

Wikipedia dra 'n reuse-aandeel by tot hierdie voortbouende kennisrewolusie en dit verskaf ook aan ons as Afrikaanssprekendes 'n gulde geleentheid om 'n globaal-beskikbare Afrikaanse kennisbron te skep.

As mens eers die enorme potensiaal van 'n vrye en omvattende Afrikaanse ensiklopedie besef, kan mens nie anders as om die proses te wil bespoedig nie. Die goeie nuus is dat dit ook heeltemal moontlik is.

Enigiemand kan Wikipedia-artikels skep en redigeer. Dit klink dalk na 'n resep vir chaos, maar die self-organiserende en self-polisiërende aard van die Wikipedia-gemeenskap bring 'n hoë vlak van orde en kwaliteit mee. Vandalisme of ongestaafde uitlatings word binne minute of sekondes waargeneem en reggestel. Hoe meer mense aan 'n spesifieke taalweergawe van Wikipedia deelneem, hoe meer vrywilligers is daar om kwaliteitsbeheer toe te pas, en hoe hoër in kwaliteit dus die uiteindelike produk.

Daar heers egter nog 'n onbewustheid onder baie mense dat daar wel 'n Afrikaanse Wikipedia bestaan, wat meebring dat sy volle potensiaal nog nie ontgin word nie. Ten spyte hiervan is die Afrikaanse Wikipedia een van die eerstes wat op die been gebring is en het dit onlangs sy tiende bestaansjaar gevier.

In die begin van 2012 is nog 'n mylpaal behaal, die 21 000ste artikel. Die aantal artikels dien gereeld as 'n maatstaf om die dekkingswydte van 'n ensiklopedie te oordeel, maar om 'n gevoel vir die omvattendheid van die gedekte onderwerpe te kry, is die artikeldiepte van nog groter waarde. Hier behaal die Afrikaanse Wikipedia 'n imponerende 40 punte, beter as dié van die Nederlandse wikipedia of tewens die meeste ander taalweergawes.

Die beskikbaarheid van Afrikaans op die web is beslis aan die groei, soos die vertaling van Google en Facebook se verbruikerskoppelvlakke na Afrikaans aandui. 'n Mens kan ook Afrikaans naas Engels as soektaal in Google instel, en sodoende resultate vir Afrikaanse soekterme ontvang. Baie van hierdie resultate sal dan ook afkomstig van die Afrikaanse Wikipedia wees.

Daar is dan ook sekere vakgebiede waar 'n Afrikaanse Wikipedia, weens die geografiese gebondenheid daarvan en die vertroudheid daarmee, 'n nis beter sal kan vul as enige ander taalweergawe. Dink maar aan die koddige dog dikwels beskrywende name vir Suider-Afrikaanse plante en diere, die Grootoog-stompneus, Poenskop, Piet-my-vrou, Langtoon, Janfiskaal en Jakobregop.

Geen ander Wikipedia sal ook soveel tyd en aandag aan die Afrikaanse taal- en letterkunde spandeer nie. Wil jy weet wanneer mens die woord 'wat' of 'wie' as voornaamwoord gebruik? Die Afrikaanse Wikipedia kan help.

Met skootrekenaars en tablette soos iPads, kan die Afrikaanse Wikipedia ook veel plesier vir 'n reisiger onderweg na sy bestemming verskaf. Daar is byvoorbeeld artikels oor al die hoofpaaie, en oor amper elke klein dorpie waarlangs hulle verbygaan. Maar belangriker as al die voorgenoemde, is die Afrikaanse Wikipedia geskik as 'n vrye en toeganklike naslaanbron vir skoolleerlinge en studente.

Die ontslape Afrikaanse sakereus Anton Rupert het opgemerk dat produkte wat op Afrikaanse sentimentaliteit staatmaak, maar nié die nodige kwaliteit verskaf nie, gewoonlik faal. Verbruikers soek kwaliteit eerste. Dieselfde geld vir 'n Afrikaanse ensiklopedie. Kom ons maak dit dus 'n wêreldklas, top-kwaliteit naslaanbron in die eerste instansie, en Afrikaans daarnaas. Sodoende sal alle Afrikaanssprekendes baatvind daarby.

-- J.C. Brand, 9 Februarie 2012‎
Vrygestel onder die Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 Lisensie.

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die verleiding van ons volkstrou

deur C.J. Langenhoven; Wo, 20 Junie 2018 08:46

DIE VERLEIDING VAN ONS VOLKSTROU

Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.

Ons het nie hier plek vir politieke diskussies nie. Maar 'n mens moet jou voorbeelde in jou eie omgewing soek, sodat die skrywer mag weet waarvan hy skryf en die leser verstaan wat hy lees. Ons Afrikaners het meer aanleiding om renegate te word as enige andere nasie onder die son. Ons volk woon meeste op die platteland en die ander ras wat tussen ons woon meeste in die dorpe en stede. Wat die inwendige karakter betref, kan jy in vele opsigte aan die platteland die voorkeur gee. Daar is minder roekeloosheid, minder wellus, minder gewinsoekery, minder mode-nastrewery, minder konkurensie-naywer; meer liefderykheid. Maar in uiterlike opsigte is die voorregte van die stadbewoner onbetwisbaar. Die kuns en wetenskap is tot sy beskikking; al die hulpbronne van geleerdheid en kultuur is in sy onmiddellike bereik; hy kom in aanraking met die hoogste produkte van die beskawing; hy is beter gewas en gekam en gekleed; sy geesteskring is ruimer, sy taal verhewener. En die uiterlike skyn het die neiging om die buiteman aan te trek, om die dorpsman as 'n meerdere te beskou.

Dan weer, die spreektaal van ons volk het nog geen literatuur nie: hy geniet nie eens die eer van Staat of Kerk of Skool·erkentenis nie.(*) Dit noodsaak alweer 'n gevoel van minderwaardigheid - van minagting van die eie en verering van die vreemde - afgesien van die aanlokkelikheid van die fyne wêreldstaal aan die ander kant en sy invloed op die gedagtetrant en standpunt van diegene van ons wat hom lees omdat dié tot nog toe skrale voortbrengsels van hulle eie nie aan hulle verstandelike behoeftes kan voldoen nie.

Daarom by die prysenswaardige strewe om oor te neem al wat beste is van die ander kant, is daar die gevaar dat ons deur snobbery op al wat edel aan ons kant is neersien; dat ons deur aanhoudende na-apery ons vir nagemaakte Engelse aanstel. Ongelukkig, ons sal maar nagemaak wees. Ons kan ál ons ou volksgewoontes, die beste met die slegste, weggooi; ons kan ons by die vreemde kerk aansluit; maar die nuwe kring waaronder ons inkruip sal nie deur die namaaksel bedroë word nie. Hulle sal ons verag omdat ons, in die éen opsig waar ons ons minder gewaan het, ons minderheid behou. Die donkie had sy eer totdat hy die leeuvel omgesit het: toe was hy veragtelik. Maar wat sou jy van 'n donkie dink wat 'n ander donkievel aantrek? En wat sou jy van 'n leeu dink wat 'n donkievel aantrek? Maar diegene wat lostrek van ons af is nie die leeus onder ons nie, en dié wat vir hulle verwelkom is nie die leeus onder die ander ras nie.

---

(*) Ek laat hierdie staan soos hy oorspronklik geskryf is in 1914. Maar ons het in agt jaar meer gevorder as ander nasies in taggentig. (Voetnota deur C.J. Langenhoven by herpublikasie van die oorspronklike werk).

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die toets van ons raadsliede

deur C.J. Langenhoven; Di, 19 Junie 2018 06:58

DIE TOETS VAN ONS RAADSLIEDE

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.

Want twyfel is die vrug van versigtigheid, en versigtigheid is die vrug van ervaring. Daarom is 'n jonge man so heethoofdig en eiesinnig omdat hy so seker is van homself. Hy kan nie verstaan dat daar mense so dwaas kan wees om van hom te verskil nie: en tog in der waarheid die punte wat hy raaksien, en wat vir hom so oortuigend is, dié het hulle ook raakgesien - maar hulle het daarby verby gekyk en daarvandaan verder ander gesien wat hy nog nie by gekom het nie. Die knapste en ervarenste wetsgeleerde wat jy by raad soek sal sê: "ek is half geneig om te dink dat jy dit kan waag om aan te gaan met die saak." Die onkundige sal sê: "Dons op, jong, jy kan dit nooit in der ewigheid verloor nie."

Dit kos 'n geoefende denker om sy opienie in die balans te hou, en dit nie eenkant of anderkant toe te laat oorhel omdat sy informasie onvolledig is of omdat hy dit nog nie degelik gesif het nie. Die oefening wat hom daartoe bring is sy ondervinding van die baie kere wat hy al in die verlede sy kop gestamp het deur alte hals-oorkop na 'n gevolgtrekking te spring. Dit is juis hy wat voel dat daar bitterlik min vraagstukke in die wêreld is waar hy alles van weet aan albei kante wat daar te weet is en wat hy dus volkome bevoeg is om te oordeel. Eieversekering is nie 'n kenmerk van kennis nie maar van onkunde.

Die man wie se raad jy eintlik nodig het is dié wat beide jou standpunt begryp en die van jou teëparty. As hy maar net jou kant van die saak sien, dan is hy oorbodig want niemand in die wye wêreld kan mos nie so goed sien as jyself nie. As hy net jou teëparty se kant sien, dan kan by jou teëparty gelyk gee of hy ongelyk het of nie. As hy albei kante geweeg het, dan sal hy twyfel: óf die vraagstuk moet so eenvoudig wees dat jy dit by jouself moes uitgemaak het sonder om raad te vra.

Maar hoé 'n goeie karaktertrek dit by 'n wysgeer of 'n raadgewer mag wees: in die praktiese lewe betaal so 'n onbeslistheid nie. Jy moet aan ieder 'n saak soveel verstand en ondersoek bestee as jy redelik tyd voor het: en dan moet jy 'n koers kies. Dit help nie om jou span osse by die uitdraai paaie te laat lê en vrek van die dors terwyl jy beraadslaag watter van die twee paaie die eerste by 'n dam verby gaan nie. Wees twyfelagtig in jou dink, vasberade in jou doen.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    37  38  39  40  41  42  43  44  45  46  47  48  49  50  51  52    »]
Tyd nou: Do Apr 25 05:02:41 MGT 2024