Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

So 'n bietjie sielkunde...

Di, 11 September 2018 18:59

'n Man gaan kuier saam met sy pêlle. Sy vrou is woedend en sê vir die kinders om nie vir hulle pa oop te maak as hy later vanaand huistoe kom nie. So 1 uur die oggend klop hy aan die deur en vra dat sy vrou moet oopmaak, hy wil inkom.

Vrou: "Voertsek tot waar jy vandaan kom en loop vrek daar! Jy sit nie jou pote in hierdie huis nie!"

Man: "Nee my liefie, ek's nie hier om te slaap nie, ek soek net daai R200 in my kas om nog verder te gaan kuier, dis 'n moerse lekker partytjie".

Die vrou maak die deur oop en gryp hom aan sy hemp, "Jou GAT! Jy kom NOU in hierdie huis in en klim in die bed!"

Humor & grappe | 1 kommentaar

"Ag, sy het nie gesterwe nie" deur Totius

Ma, 10 September 2018 18:20

"Ag, sy het nie gesterwe nie" is 'n hartroerende gedig wat Prof J.D. du Toit (aka Totius) geskryf het nadat sy oudste dogtertjie deur weerlig doodgeslaan is.

Ag, sy het nie gesterwe nie

ag, sy het nie gesterwe,
maar sy was sommer dood:
geen siekte en lange lyding:
geen uur van voorbereiding:
geen dr met die tyding:
net 1, 1 onweerskoot
en sy was dood.

hoe het ons arme seuntjie
gekwyn tot in die dood:
vooraf die lange lyding,
daarna die wrede skeiding,
en dan, dit was my hart te groot!
en dan sy dood.

maar bitterder as bitter
die plotsheid van haar nood:
'n vonkvuur blits die tyding:
'n straalpyl bring die lyding:
'n skrikroep is die skeiding:
en sy het nie gesterwe,
maar sy was sommer dood.

Prosa & poësie | 0 kommentare

SA in tegniese resessie

So, 09 September 2018 15:17

Volgens die jongste statistiek is Suid-Afrika "tegnies" in 'n resessie. Die land se groeikoers het in die tweede kwartaal van 2018 met 0.7% afgeneem, na 'n inkrimping van 2,3% in die eerste kwartaal. 'n Tegniese resessie ontstaan as die ekonomie vir twee agtereenvolgende kwartale negatief groei.

Die ekonoom Chris Hart het getweet: "As Suid-Afrika sedert 2010 die gemiddelde groeikoers van Sub-Sahara en sy eweknieë in die ontluikende markte kon handhaaf, die ekonomie vandag sowat R1 miljard groter sou wees. Dit is self-veroorsaak deur oorbelasting, oorregulering en weghol-korrupsie."

Selfs Dawie Roodt het gewaarsku: "Alle Suid-Afrikaners behoort baie, baie bekommerd te wees." Hy raai selfs mense aan om in veiliger plekke as Suid-Afrika te belê.

Volgens pres. Ramaphosa sal die regering in die komende dae 'n plan van aksie bekendmaak. Hy het die publiek gemaan om nie moed te verloor nie en dat alle lande deur siklusse met op- en afwaartse fases gaan. Die ingryping om verhogings in brandstofpryse te absorbeer is een van hierdie maatreëls.

Die regering se uitspraak dat "mens grond aan mense kan gee op 'n manier wat werkskepping sal bevorder en die ekonomie laat groei" laat mens egter wonder of hulle weet hoe 'n ekonomie werk. En, vanoggend in die Rapport: "Grondpryse val 32%".

Laat ons maar eerder nie oor die Rand se swak vertoning praat nie...

Ekonomie & geldsake | 0 kommentare

Strooimanne in die parlement?

So, 09 September 2018 07:48

Net laas week het ons gehoor hoe iemand in 'n Clicks-winkel van haar mandjie praat, gevolg deur die onverwagte vraag: "Who do you call 'n monkey?". Die week verwys Ernst Roets na die strooiman-argument, en die reaksie, wag vir dit... "You can't call us strawmen!" (Mev. Madipoane Mothapo van die ANC).

So, net vir duidelikheid:

'n Strooimanargument (of strooipopargument) is 'n foutiewe debatstegniek waar 'n wanindruk omtrent 'n teenstander se argument geskep word. So 'n argument skep die indruk dat die teenstander se argument verslaan word deur sy stelling te vervang met 'n ander, maar nie ekwivalente stelling, wat dan as 'n valse argument bewys word.

Dit kom in die volgende patroon voor:

  • Persoon 1 maak stelling X
  • Persoon 2 argumenteer teen stelling Y, soortgelyk maar nie ekwivalent aan stelling X, asof dit is wat Persoon 1 eintlik gesê het.

So, wat se strooi is dit? Niemand sal tog durf om ons parlementariërs strooimanne of -vroue te noem nie!

Nuus | 0 kommentare

Onteiening sonder vergoeding: Die NDR het misluk

Sa, 08 September 2018 08:04

Die koerante is besig om vreeslik ter velde te trek teen 'n voorlegging wat Afriform oor onteiening aan die parlement gemaak het. Die klomp gaan net so tekere as iets hulle nie pas of hulle agenda bevorder nie. Ek het die toespraak gaan opsoek en dit in Afrikaans vertaal sodat mens dit kan verstaan:
----

Aanbieding aan die Grondwetlike Oorsigkomitee
6 September 2018
Ernst Roets


Vyftien jaar gelede het die Suid-Afrikaanse regering David Rakgase se aanbod aanvaar om die plaas wat hy van hulle huur te koop. Tot hede het die Suid-Afrikaanse regering nie eienaarskap van die grond aan hom oorgedra nie.

Vroeër vanjaar is Akkerland-boerdery met 'n uitsettingsbevel van die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming bedien, wat sê dat hulle sewe dae het om hul plase teen 'n vergoeding van 10% van die markwaarde te verlaat. En dit om verdere Sjinese belange in Suid-Afrika te bevorder.

AfriForum moes vandeesweek 'n dringende aansoek in die Hooggeregshof verkry om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te dwing om teen indringers op die plaas van 'n Gautengse boer, dr. Motodi Maserumule, op te tree. Die polisie het geweier om 'n saak oop te maak.

Mnr. Voorsitter, onteiening sonder vergoeding of onder markwaarde toon disrespek vir eiendomsreg as 'n basiese mensereg. Ek het net tien minute, so ek sal dit kort en tot die punt hou. In my aanbieding sal ek:

  • Verwys na die ideologiese doelwitte van die ANC-alliansie;
  • Die historiese denkfout wat dien as motivering vir onteiening sonder vergoeding ontbloot;
  • Verduidelik waarom gewillige koper, gewillige verkoper misluk het;
  • Waarom hierdie beleid katastrofies sal wees; en
  • Waarom die sogenaamde "honger na grond" 'n versinsel van die ANC/EFF-alliansie is.
NDR (Nasionaal-Demokratiese Revolusie)

Die ANC en sy alliansievennote is in Marxisme-Leninisme gewortel. Volgens hul eie strategiese en taktiese dokumente glo die beweging in 'n nasionale demokratiese revolusie. Dit impliseer dat soveel mag in die staat gesentraliseer moet word as wat die balans van magte toelaat, sodat staatsmeganismes gebruik kan word om die doelwitte van die rewolusie te bevorder, wat Suid-Afrika op die pad na sosialisme stuur om uiteindelik 'n kommunistiese utopie te skep. Daarom word rampspoedige beleide soos dié, asook die van die Sowjetunie, Kommunistiese Sjina, Kuba, Kambodja, Zimbabwe en Venezuela gereeld deur die ANC/EFF-alliansie opgehemel. Die beleide wat die wêreld se rykste ekonomieë en mees harmonieuse samelewings geskep het, word as rassisties en onderdrukkend uitgebeeld.

Dit is hoekom die opkomende swart boere kla dat hulle nie steun van die regering kry nie. Daarom woon 23% van die mense in Suid-Afrika al reeds op grond wat in staatsbesit is en die helfte van hulle kla oor die kwaliteit van hierdie land. Dit is ook waarom slegs 6% van alle grond wat deur die huidige regering verkry is van staatsbesit na privaat eienaarskap oorgedra is.

Geskiedenis

Daar word gereeld aangevoer - veral in hierdie Huis - dat "blankes die land gesteel het". Dit is die grootste historiese denkfout van ons tyd. Daar is drie maniere waarop wit mense grond verkry het, naamlik:
  • Nedersetting op onbewoonde land;
  • Aankoop van grond deur middel van verdrae, samewerking en ooreenkomste; en
  • Die mees omstrede maar minste betekenisvol, deur verowering.
Dan was daar natuurlik wetgewing soos die Naturelle Grondwet van 1913 en die Groepsgebiedewet van 1950. Hierdie onregte moet aangespreek word, maar hulle moet spesifiek hanteer word, nie gebruik word om groot vals narratiewe te skep of nuwe rassistiese beleid daar te stel nie.

As daar egter geargumenteer word - soos ons gehoor het - dat eienaarskap van grond deur blankes as onwettig beskou moet word, aangesien Afrika die swartmense se vasteland is, dan moet julle bereid wees om met regse fasciste in Europa saam te werk. Hulle argumenteer dat Europa witmense se vasteland is en dat daar nie plek vir swartmense in Europa is nie. As jy sê dat blanke mense in Afrika nie gelyke behandeling moet ontvang nie, maar die regte van swartmense in Europa beskerm moet word, is jy niks anders as 'n rassistiese huigelaar nie.

Korrupsie

Die regering het reeds meer as R50 miljard aan grondhervorming bestee en het baie min om daarvoor te wys. Die Motlanthe-kommissie het bevind dat die regering se ondoeltreffendheid en korrupsie 'n groot struikelblok vir effektiewe grondhervorming is. Ongeveer 5% van landbougrond is jaarliks in die mark beskikbaar. As die regering dié geld op die aankoop van plase spandeer het, kon hulle reeds die helfte van die land se plase opgekoop het. Maar hierdie benadering voldoen nie aan die idees van die Nasionale Demokratiese Revolusie nie. Daarom verkies die ANC/EFF-alliansie 'n regeringskantoor, waardeur ingewikkelde prosesse gebruik kan word om hulself ten koste van die mense te verryk.

Ekonomie

Die debat oor grondhervorming kom op 'n tyd wanneer die regering dit die minste kan bekostig om beleggersvertroue te verloor. Beleggingsekerheid lei tot die opbou van kapitaal, wat tot meer indiensneming en hoër produktiwiteit lei. 'n Aanval op privaat eiendom lei tot onsekerheid en ekonomiese agteruitgang.

In 2015 het Suid-Afrikaners (vir die eerste keer op rekord) begin om meer in die buiteland te belê as wat buitelanders in Suid-Afrika belê - dit dui op 'n totale verlies aan beleggersvertroue.

Om te sê dat eiendomsreg afgetakel en ekonomiese vryheid ingeperk gaan word op 'n wyse wat die ekonome gaan bevoordeel, is soos om te beweer dat KFC uitgebrei kan word op 'n manier wat goed is vir hoenders.

Diegene wat die erosie van eiendomsreg soek, kan nie enige bewyse verskaf waarom 'n meer aggressiewe implementering van 'n reeds mislukte beleid anders as 'n meer aggressiewe mislukking sal wees nie. Dit is Albert Einstein se definisie van waansin: Doen dieselfde ding oor en oor, maar verwag ander resultate. Christopher Hitchens het gesê dat alles wat sonder bewyse beweer word, sonder bewyse verwerp moet word. Ons word nou genooi om kommentaar te lewer op onteiening sonder vergoeding ten spyte van die skreiende feit dat daar geen bewyse is waarom dit in die eerste plek positiewe resultate sal oplewer nie.

Die bevrediging wat die ANC/EFF-alliansie daaruit put om die middelklas en welgesteldes seer te maak, oorskadu hul begeerte om arm mense op te hef. Die probleem is egter dat onteiening en die gevolglike ekonomiese ineenstorting arm mense seerder as as ryk mense sal maak, wat eenvoudig die land sal verlaat. In so 'n geval het jy nie net 'n voedseltekort vir Suid-Afrika geskep nie, maar ook jou belastingbasis verloor.

Honger vir grond

Alle beskikbare bewyse dui daarop dat die honger vir landbou- of landelike grond in Suid-Afrika hoofsaaklik 'n mite is:
  • Van al die grondeise tot datum is 59% in stedelike gebiede geliasseer.
  • Van al die grondgrype in die afgelope jare was 84% in stedelike gebiede gewees.
  • Suid-Afrikaners, maar veral swart Suid-Afrikaners, is besig om vinnig te verstedelik.
  • Van al die mense wat die moeite gedoen het om grondaansoeke in te dien, het 93% aangedui dat hulle eerder geld as grond wil hê.
  • 'n Onlangse peiling deur die Instituut vir Rasseverhoudinge het bevind dat slegs 1% van die mense in Suid-Afrika glo dat meer grondhervorming hul lewens sal verbeter, en net 0,6% beskou grondhervorming as Suid-Afrika se grootste onopgeloste probleem.
Afsluiting

Ons moet nie toelaat dat hierdie saak in 'n rassekwessie ontspoor nie. Ongelukkig het die President dit reeds gedoen toe hy die woorde "ons mense" gebruik het om na swart mense te verwys. Die Adjunkpresident het dit gedoen toe hy gedreig het met 'n "gewelddadige oorname" as wit mense nie hul land vrywillig aan swart mense oorhandig nie. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, het dit gedoen toe hy gesê het dat geen eiendom van enige swart persoon of groep onteien sal word nie.

Dit is 'n gewilde tydverdryf van lede van dié Parlement om elke blanke persoon te blameer vir die misdade van enkele blanke persone. Verbeel jou nou dat ons elke swart persoon skuldig bevind aan die misdade van sommige swart persone. As ons konsekwent was in hoe ons die geskiedenis evalueer en kontekstualiseer, sou blanke mense aansprake soos "swart mense is moordenaars" kon maak, net op grond dat sommige swartmense moord gepleeg het, of dat swartes vergoeding moes betaal vir die Bloukrans- en Weenen-bloedbad, of die uitwissing van die Van Rensburg-trek. Ons sal almal saamstem dat sulke eise as grof rassisties en ondraaglik onbillik beskou sou word. En, ek is daarvan oortuig dat die van julle wat die aggressiefste probeer regstel, nie eers van die Bloukrans- en Weenenmoord of die Van Rensburg-trek weet nie. Hoekom nie? Omdat julle dronk is van ideologie. Dit is 'n ideologie wat nie op historiese akkuraatheid gebaseer is nie, maar 'n wanhopige poging om rassehaat en verdeling te vergis met die werklike doel om staatsmag en hopelose sosialisme onder die vaandel van "regstellende maatreëls" te bevorder.

Ja, julle is dronk op ideologie - die ideologie van die mislukte Nasionale Demokratiese Revolusie. Julle is dronk van mag - aangesien elke besluit wat julle maak, 'n poging is om meer mag en beheer in jul hande te setel. Julle is dronk van haat en minagting - nie net vir blanke mense nie, maar ook vir die armste Suid-Afrikaners wat daagliks onder jul beleid ly en nog meer sal ly as jul die ekonomie verder vernietig en aanhou om haat en verdeeldheid te saai.

Baie dankie.

Nuus | 0 kommentare

"Slaap" deur D.F. Malherbe

Vr, 07 September 2018 17:31

SLAAP
deur D.F. Malherbe

Wat is die slaap 'n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe 'n fluistering:
"Nag, Pappie." Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.

Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

---

Die gedig handel oor 'n kind wat rustig in die veiligheid van haar vader se arms aan die slaap raak. Dit lei tot die simboliek van 'n volwassene wat so in die arms van sy hemelse vader wil sterf. Let op die gebruik van omarmde rym (abba).

Prosa & poësie | 0 kommentare

Regstellende Aksie is onwettig

Wo, 05 September 2018 06:38

Solidariteit het die Suid-Afrikaanse regering by die Menseregtekommissie (MRK) en die Verenigde Nasies verkla, waarna die MRK bevind het dat die huidige toepassing van Regstellende Aksie onwettig is. Hulle het aanbeveel dat die wet op Diensbillikheid gewysig moet word. Die Departement van Arbeid is gevra om binne ses maande vanaf Julie 2018 aan die MRK terugvoer te gee oor watter stappe geneem is om dié wet "reg te stel".

Suid-Afrika se huidige regstel-maatstawwe in te rigied en is effektiewelik 'n kwotastelsel. Die huidige Wet op Diensbillikheid voldoen volgens die verslag nie aan die land se grondwet nie, en ook nie aan die vereistes van die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD - "International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination") nie.

Volgens die verslag moet regstelaksie sensitief vir konteks wees en dat streeksdemografie in ag geneem moet word. Die regering se rasseklassifikasie is nie aanvaarbaar nie en maatstawwe moet meer genuanseerd (beter bedag) wees. Daar is ook bevind dat behoefte in ag geneem moet word, en dat daar 'n einde aan regstel-maatstawwe moet wees.

Nuus | 0 kommentare

"Klein Ondeug" deur Jan F. E. Cilliers

Di, 04 September 2018 05:38

KLEIN ONDEUG
deur Jan F. E. Cilliers

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug;
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar -
keer voor daar ! liewe deug !

Te laat ! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy hom op sy rug
en trappel fluks tamboer.

Hy's kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
Jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy's weg en stil nou, soos 'n muis -
maar glo my nou's dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy 't al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort,
en hy - een swarte vlek !

Daar val meteens, die solderleer,
ja, soos 'n donderslag !
ons loop te hulp met grootte haas -
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag !

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug - moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Mandjies en "monkeys"

So, 02 September 2018 20:41

Op 23 Augustus 2018 het 'n wit vrou in 'n Clicks-winkel in Pretoria vir haar mandjie gevra. 'n Swart dame hoor toe "monkey" (aap) en gil histeries: "who is a monkey?". Die voorval is op video vasgelê en wyd op sosiale media versprei. In die agtergrond kan gehoor word hoe 'n omstander sê: "No, she didn't say she is a monkey." Die vrou se mandjie is ook duidelik in die video sigbaar.

Clicks het die voorval bevestig en beklemtoon dat die konflik tussen klante was en dat hulle werknemers nie daarby betrokke was nie. Die winkelgroep se verklaring lui: "Ons het ons interne ondersoek afgehandel en bevind dat ons personeel niemand se kant gekies het nie en baie professioneel opgetree het om hierdie moeilike voorval te hanteer".

Dit herinner nogal sterk aan H&M se "coolest little monkey in the jungle"-advertensie wat ook totaal uit verband geruk is. Soos te wagte word dit as 'n rassevoorval bestempel en 'n saak van crimen injuria is blykbaar teen die wit vrou aanhangig gemaak.

Die belangrikste les van die week is dat mens mooi duidelik moet praat as jy 'n mandjie soek, of gebruik eerder 'n trollie! Dit sal voorkom dat ander van hul trollies af raak. Razz

Nuus | 0 kommentare

Lentedag

Dis heerlike lente; Sa, 01 September 2018 13:34

Jammer vir die mense wat van die winter hou, of vir die wat hooikoors kry, maar... ♪♪♫♪♪

DIS HEERLIKE LENTE:

Dis heerlike lente, die winter's verby
Weer nodig die velde vir jou en vir my
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Daar's dou op die blomme, die dagbreker fluit
Ons beur deur die klowe die opdraandes uit
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Van hier waar die varkblom en vleiriete groei
Tot daar waar die aalwyn en kanniedood bloei
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Al hoër en hoër na bowe te voet,
Om hoog op die kruine die rooidag te groet
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Daar's krag vir die spiere op vaderlands-grond
Die vroe-vroeë môre het goud in die mond
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Woorde: THEO W. JANDRELL en G.G. CILLIÉ
Musiek: Wysie uit die Alpe; verwerk: G.G. CILLIÉ

Musiek & liriek | 2 kommentare

Bladsye (1842): [ «    31  32  33  34  35  36  37  38  39  40  41  42  43  44  45  46    »]
Tyd nou: Wo Apr 24 08:46:48 MGT 2024